Home | Neil Nachtrein – My Stories SA Sing – E2S1

Neil Nachtrein – My Stories SA Sing – E2S1

Neil Nachtrein Afrikaanse Musiek Liedjieskrywer

KUNSTENAAR PROFIEL

  • Liedjieskrywer: Neil Nachtrein
  • Begin Jaar: 2003
  • Musiekstyl: Alternatiewe Afrikaans
  • Albums: Gisters & Blisters (2012), Op Plekke Waar Ons Eens Was (2019)
  • Instrumente: Kitaar, mandolien, bekfluitjie
  • Huidige Stad: Bloemfontein
  • Bespreek hom vir: huiskonserte of intieme vertonings

My Stories SA: Episode 2 – Neil Nachtrein

Episode Uitsaai Datum: 23 Aug 2020
 

Neil Nachtrein is ‘n boerseun met ‘n buitengewone liefde vir woorde en musiek. Hy het in 2003 begin deur open mic aande in Londen te hou. In 2006 begin hy sy eie musiek skryf en keer hy terug na SA waar hy plaaslik optree in Bloemfontein. In 2012 reik hy sy eerste album, Gisters & Blisters uit en span hy en Jan Blohm kragte saam as ‘Blomtrein’. Na 3 jaar van Blomtrein ry is Neil weer op eie stoom. Die grootste deel van sy vertonings is oorspronklike alternatiewe Afrikaanse musiek, maar hierdie Vrystater gaan ook jou voete laat stamp op ‘rock & blues covers’. Sy nuutse album “Op plekke waar ons eens was” is in 2019 uitgereik.

Tussen woorde en stiltes gaan jy intiem meegesleur word, altyd op reis na binne.

“My musiek spruit uit gevoelens van nostalgie en heimwee. Dis asof die musiek reeds daar is. Ek is slegs ‘n voertuig waardeur die musiek sy bestemming bereik. My musiek bevat stories. Ander mense s’n, maar ook my eie. Uit stille observasie kom my woorde en note.” – Get It Bloemfontein Onderhoud

MUSIEK ONDERHOUD

Si-lest Gomes vind meer uit oor  liedjieskrywer, Neil Nachtrein, se storie.

Vertel meer oor jou nuwe album?

My nuutste album, “Op plekke waar ons eens was”, is in September verlede jaar vrygestel. Elf oorspronklike afrikaanse akoestiese snitte oor verlange, vrede, spyt, drome, teleurstellings, hoop. Die album is beskikbaar op meeste digitale platforms. Vir harde kopie bestellings, epos neilnachtrein@gmail.com.

Wat is jou storie? Enige interessante “day jobs”, waar het alles begin? 

Daar was nie veel te doen op Odendaalsrus, die klein myndorpie, waar ek grootgeword het nie. So het ek as tiener my ore begin uitleen vir enige musiek wat ek my hande op kon lê. Adam Duritz van Counting Crows se skryfstyl was die eerste saadjie wat ontkiem het en later jare het Gert Vlok Nel my die lig in Afrikaans laat sien.

Sedert 2006 bly ek in Fouriesburg en begin optree en skryf as Neil Nachtrein. Tussen 2015 en 2018 toer ek as deel van Blomtrein. 

Geen “day job” vir die afgelope vier jaar nie. Ek het wel al ‘n paar gehad, kitchen porter, waiter, hotel night porter, menger in ‘n koolslaai fabriek, konstruksie werker, blokman, plaas voorman, PA vir ‘n GP.

Ek reken “life changing” oomblikke lê in die alledaagse klein keuses, so ja, het vanoggend ‘n “life changing” oomblik gehad toe ek besluit het op ‘n derde koppie koffie.

Ons het almal al in ‘n onderhoud ‘n onverwagse vraag gekry waarop ons ‘n ondeurdenkte antwoord gegee het. (Paniekbevange of nog nooit daaroor gedink nie!?) Wat is joune?

Daar was ‘n baie lang stilte van die omroeper se kant af, ek maak toe die opmerking: “Niemand wil met my praat nie”, min wetend ons is live op die lug.

Wat maak jou kreatiwiteit wakker?

Musiek self. As ek ‘n lied hoor wat my iets laat voel, dan besef ek hoekom ek doen wat ek doen en hoekom ek dit wil aanhou doen. Ek wil die een wees wat deur musiek iemand ander iets laat voel.

Wat is daardie een liedjie van jou wat jou intimideer – die een wat jou senuweeagtig maak om te speel?

Haha, musiekante is eintlik nie veronderstel om ons vrese en swakhede bekend te maak nie, dis ‘n vraag wat jou van aangesig tot aangesig bring met jou eie bekwaamheid. Ek hou daarvan om te dink dat ek my hele repertoire live kan opvoer, maar “Niks is meer ons eie” is een van daai wat my altyd laat wonder, gaan ek hom vanaand nail of nie.

Vertel ons van JAC Handgemaakte Leerwerk?

JAC is my en my pa se voorletters. Dit het begin as my pa se stokperdjie. Eers net herstelwerk aan tooms, halters, belde ens., toe later dit self begin maak. Nou maak ons handsakke, voorskote, aktetasse, badsakkies, rugsakke, beursies ens. Intussen het ek ‘n paar vaardighede by hom aangeleer en hou ek my hande daarmee besig as hulle moeg raak vir kitaarsnare. JAC word bedryf vanaf Model Slaghuis in Fouriesburg en ek is besig om ‘n werkswinkel by my woning in Bloemfontein in te rig.

Vir meer inligting of bestellings, epos jacleerwerke@gmail.com of besoek ons op Facebook of Instagram @jac_leerwerke.

Wat sal jy vir jouself in ‘n onderhoud wil vra?

So Neil, wanneer het jy uitgevind jy is moer famous in België?

(My Stories SA Nota: kan iemand asseblief die man “famous” maak in België? As ons dit vir Sixto Rodriguez kon doen, kan ons dit vir ons eie ook doen, mos? Stuur sy musiek vir jou vriende in België…bel iemand…inbox vreemdelinge, maar doen tog iets! Help ‘n man uit.)

Jou musiek, jou stem, jou persoonlike styl en ook jou naam wek nostalgie op in mense. Ons verneem byvoorbeeld dat jou naam “Nachtrein” afkomstig is van die nostalgiese herinneringe van die trein op Fouriesburg waar jy gebly het. Wat is “nostalgies” vir jou?

Die “road not taken” los my gewoonlik met die sterkste gevoel van nostalgie. En wat lekker is van kuns, mens kan daai paaie gaan verken.

Afrikaans is verseker nostalgies, wel, dit moet wees, dis die enigste taal wat mý verstaan, dis waarin ek dink, droom en bid.

Volg hom of koop sy musiek aanlyn:

Lees verder oor Neil Nachtrein:

 Instagram: #mystoriessa @gosiafrica