
My Stories SA: Episode 1 – Die Kaalkop Waarheid
MUSIEK ONDERHOUD
Si-lest Gomes vind meer uit oor Die Kaalkop Waarheid liedjieskrywer, Nardus du Plooy, se storie.
Vertel meer oor julle nuwe album?
Ons is al die afgelope 4 jaar besig om te werk aan ‘n nuwe album. Alles liedjies wat hier in die Kaap en oor die Kaap geskryf is. Ek werk saam met Riku Latti van Die Wasgoedlyn. Christo Groenewald, Hanru Niemand en Christo Strauss speel saam maar dit gaan maar stadig want ons het almal ander werk. Ek dink dit frustreer soms vir Riku maar hy is ongelooflik geduldig. Om saam met Riku die musiekpad te stap is een van die mees vulvullendste dinge wat hier in die Kaap met my kon gebeur.
Wat is jou storie?
Ek het grootgeword in Pretoria se Moot tussen spoorwegwerkers, staats- en bakamptenare. Deur my skoolloopbaan het ek gereeld aan operettes deelgeneem. Ek dink ek het my eerste liedjie in Engels geskryf toe ek in standerd 8 was. Musiek was maar altyd ‘n behoefte binne my.
My eerste optrede na skool, weermag en universiteit was vir ‘n CD kompetisie op Radio Koppies. Van daar het DKW tot stand gekom.
Ek het lank in die kommunikasie en bemarkingsbedryf gewerk. Tien jaar gelede het ek Kaap toe getrek en begin werk in projekbestuur.
Ons het almal al in ‘n onderhoud ‘n onverwagse vraag gekry waarop ons ‘n ondeurdenkte antwoord gegee het. (Paniekbevange of nog nooit daaroor gedink nie!?) Wat is joune?
Dit klink asof julle dink ek kan detail onthou…..my antwoorde is bykans altyd van die wal af in die sloot.
Wat maak jou kreatiwiteit wakker?
My emosioneel onrustige hart.
Wat is daardie een liedjie van jou wat jou intimideer – die een wat jou senuweeagtig maak om te speel?
Woestyn se Rivier – too close to home.
Vertel ons Die Kaalkop Waarheid se storie?
Die Kaalkop Waarheid het begin met myself en die Biddulph broers (Reenen en Wimpie). Ons is al drie kaalkoppe en buiten dit sinspeel die naam op die inhoud van ons songs. Dis nie opgepoets as iets anders nie – dit is wat dit is.
Oor die jare het DKW gegroei met Jaco Lotter en Brenda Burnit wat bygekom het. Ek ken vir Brenda al lank voor ek die Biddulph broers ontmoet het en met haar talent was it maklik om net in te val by ons.
Een van die grootste hoogtepunte vir my persoonlik was in 2008 toe ons die album Woestyn se Rivier in Stellenbosch vrygestel het. By een van die tafels in die voorste ry het Sir Ian Mckellen, die Briste akteur gesit. Eks is ‘n reuse fan!