Home | Bacchus Nel – My Stories SA – Sing – S1E3

Bacchus Nel – My Stories SA – Sing – S1E3

Bacchus Nel

KUNSTENAAR PROFIEL

  • Liedjieskrywer: Bacchus Nel
  • Eerste Album: In Die Arms Van Die Nag (2005)
  • Musiekstyl: Folk in Afrikaans
  • Albums: Tussen Junk & Jewelry, 2-Ster Hotel, Ou Blou Skoene, Vaalrivier (2020)
  • Instrumente: Kitaar
  • Huidige Stad: Pretoria
  • Bespreek hom vir: Huiskonserte tot groot vertonings
  • Episode “Band”: Rian Britz (trekklavier & klavier), Rynier Prins (double bass)

My Stories SA: Episode 3 – Bacchus Nel

Episode Uitsaai Datum: 30 Aug 2020
 

Op ‘n katastrofiese dag het ‘n klein Volksie voor ‘n vragmotor ingery en ‘n einde gemaak aan Stephen Nel, die deeltydse versekeringsverkoopsman van Standerton. Uit die wrak van verwronge metaal het daar egter iets merkwaardigs gebeur: die geboorte van digter, sanger en liedjieskrywer Bacchus Nel.

Die gebreekte bene het weer heel geword, maar Bacchus moes hoor dat hy nooit weer sal sien nie. Hy was 21 en onherroeplik blind. Om ‘n uitlaatklep vir sy rou emosies te kry, het hy begin kitaar speel en helder beelde opgetower met sy musiek en woorde. Hy het ‘n put van kreatiwiteit en talent gevind wat verborge was in Stephen Nel. Hierdie talent is uiteindelik raakgesien deur Piet Botha en Lanie van der Walt, wat hom gehelp het om sy populêre debuut CD te voltooi: “In die Arms van die Nag”….lees verder. (Uit ‘n onderhoud met Marguerite Robinson, Rapport 2005)

“…ek maak nie Afrikaanse musiek nie, maar wel musiek in Afrikaans.”

MUSIEK ONDERHOUD

Si-lest Gomes vind meer uit oor liedjieskrywer, Bacchus Nel, se storie.

Vertel meer oor jou nuwe album en enige ander projekte soos Ou Blou Skoene?

Ou Blou Skoene het ek ‘n klomp jare gelede by Riku Latti in die strand opgeneem. Oorspronklik was die idee dat dit ‘n Band album sou wees, maar het toe nooit so gerealiseer nie. Riku het intussen die songs vir Willem Moller gestuur wat dit gemix en master het en ook hier en daar kitaar bygesit het. Jannie Hanepoot van Tonder speel ook tromboon op twee van die songs. Daar is ook ‘n saag, ‘n chello en trekklavier onderskeidelik gespeel deur Jacques Jigglesworth du Plessis, HA!MAN Francois Le Roux en Riku Latti. Jean Tunes Marais en Mark Ellis het ook drums en bass op een van die tunes gedoen. Op die stadium is die album elektronies beskikbaar op my Facebook blad. Seesiek Pianis wat ons in hierdie episode doen is op Ou Blou Skoene.

Ek is tans besig met die opname van Vaalrivier, wat ‘n album is van songs oor my geboorte dorp wat ook die plek is waar ek groot geword het.

Vertel ons jou storie? Enige interessante “day jobs”, waar het alles begin? 

Gebore en groot geword in Standerton, Mpumalanga langs die Vaalrivier. Was na skool ‘n arbeider op ‘n kiboets in Israel, het onder andere hoenders getel. Was ‘n door to door salesman in Engeland en het ook dan na my terugkeer by ‘n makelaarsfirma op my tuis dorp gewerk. Het maar begin musiek maak vir my vriende om dronk vure langs die Vaalrivier. Ek het begin kitaar speel na die ongeluk, wou nog altyd leer speel en het toe skielik baie tyd op hande gehad. Die skryf het net gebeur maar is nog altyd lief vir mooi lirieke.

Ons het almal al in ‘n onderhoud ‘n onverwagse vraag gekry waarop ons ‘n ondeurdenkte antwoord gegee het. (Paniekbevange of nog nooit daaroor gedink nie!?)  Wat is joune?

Ek het in ‘n TV onderhoud van wie die aanbieder ‘n sanger is, op ‘n vraag van “watse musiek kan mens verwag om op jou CD rak te sien”, geantwoord voor ek kon dink, “definitief nie joune nie”.  Dit is wel waar, was seker bietjie onsensitief.

Wat maak jou kreatiwiteit wakker?

Moeilik om te sê, tel maar stories langs die pad op. Hoe die kreatiewe proses werk bly maar altyd bietjie van ‘n enigma. Dis iets wat net gebeur.

Wat is daardie een liedjie van jou wat jou intimideer – die een wat jou senuweeagtig maak om te speel?

Daar is maar ‘n hele paar songs wat nooit die verhoog haal nie, wat net daar bly op ‘n album soos jy dit opgeneem het. Daar is altyd geleentheid om hulle af te stof en ‘n nuwe baadjie aan te trek. Wat ek eintlik sê, party songs werk net nie so lekker live nie, of mens sukkel om daai magic plek te kry soos toe dit opgeneem is. Daar is daai een song waarvoor mense altyd vra, het maar geleer om dit elke keer anders te benader sodat dit ook lekker en vars bly vir die Band.

Vertel ons van jou musiek en kuns konserte saam met Ronel Kellerman?

 

Ons het ontmoet by ‘n Mr Cat and The Jackal en The Oh So Serious gig by Tings in Hatfield, die res is geskiedenis. Het gedink om die musiek en die kuns te kombineer ‘n klomp jare gelede, was eintlik ‘n lekker verskoning om saam op ‘n roadtrip te gaan. Dit was ‘n sukses, so ons doen dit van tyd tot tyd, ons toer lekker saam. 

Ronel se werk is te sien by www.ronelkellerman.co.za of Facebook.

Wat sal jy vir jouself in ‘n onderhoud wil vra?

Vraag: Praat jy gereeld met jou ma? Antwoord: Ja dit is belangrik, weet ‘n moeder is maar altyd bekommerd oor haar kinders, veral die stoutste.

Hoe sal jy jou musiek beskryf aan iemand wat dit nog nooit gehoor het nie?

Weet nie rerig nie, voel die musiek is konstant besig in ‘n proses van evolusie. Die klank hang ook baie af van die musikante saam op die verhoog en soms selfs die venue waar jy speel. Mens moet maar self musiek luister en dit ‘n etiket gee, voel dit hang baie af van elke mens se verwysings raamwerk. Ek kan wel sê, ek maak nie Afrikaanse musiek nie, maar wel musiek in Afrikaans.

Is jou blindheid vir jou ‘n kruis of sien jy dit as iets wat ‘n “gift” is?

Sou waarskynlik nie musiek gemaak het, was dit nie vir die ongeluk nie. Ek sien dit nou as die hand wat ek gedeal is, so dit is wat dit is. Het wel fantastiese vriende gemaak deur musiek en in daai way is ek blessed.

Volg hom of koop sy musiek aanlyn:

Ek sing my gesange van verlange, net vir jou

“Jy sê dis so stil jy kan hoor hoe ‘n blaar in die straat af rol, op Rosendal

O in die aand onder die middernag maan in die palm van haar oer-ou hand

Jy sê ja die skaapwagter dra jou gunsteling jas, het dit gevat sonder om te vra

Jy sê ja dit maak dan jou hart tog so seer as jy sien hoe dit aan die doringdraad hak

Vat my dan op tot bo teen die berg waar die skaduwees soos slange dans

Laat ek dan hoor wat dit dan is wat my voorvadergeeste vir my wil sê…”

 Instagram: #mystoriessa @gosiafrica